WIE IS UITVERKIES ?
Daar is al baie lank ‘n groot stryd onder Christene en selfs ander oor die saak van die uitverkiesing in die Bybel. Dat die Woord dan ook duidelik van ‘n uitverkiesing praat kan geensins ontken word nie, maar wat word daarby bedoel. Beteken dit dat sommige mense van die voortyd af reeds vir die hemel en ander vir die hel uitverkies is. Dit is wat Calvyn geleer het in o.a. sy Institusies vol. III, hfst. 3, p. 4 en vol. III, hfst. 23. Hy het vas geglo dat sommige mense geen kans hoegenaamd gehad het om gered te kon word nie. Hy het ook graag van verskillende klasse mense gepraat. Die een klas kon ook geensins oorbeweeg na ‘n ander klas nie. In die Europa van ‘n paar eeue gelede het die klasse sisteem baie sterk gefigureer. Sou dit sy denke in die rigting kon lei, kan nou gevra word.
As dit wat hy geleer het die waarheid was, dan sou dit absolute dwaaheid wees dat God sy Seun na die aarde moes stuur om vir verlore sondaars te kom sterf.
Dit sou dan wees omdat sekeres nie redding nodig gehad het nie, want hulle was al reeds uitverkies tot die hemel en die ander ‘verlore sondaars’ wat uitverkies was vir die hel sou in elk geval nie gered kon word nie. Waarvoor sou Christus dan kom?
Natuurlik weet ons dat Christus se kruisdood hoegenaamd geen dwaasheid was nie, maar absolute wysheid en die grootste liefdesbewys in die geskiedenis van die mensdom.
Calvyn het ook geleer dat die mens nie ‘n vrye wil het nie. Dit sluit nou aan by sy siening dat die mens algeheel verdorwe is sedert die sondeval. Volgens hom was die val van so ‘n aard dat die mens se wil ook daardeur totaal verdorwe geword het. Dit sou dan beteken dat die mens geen goeie of regte besluite meer kon neem nie. Daar is egter een groot probleem hiermee. Daar was mense in die Bybel wat waarlik die Here met oorgawe gedien het soos Henog (Gen. 5:24; Heb. 11:5) en Noag (Gen. 6:9). Die Woord sê hulle was opreg en gehoorsaam. Waar het hulle dan die krag gekry om sulke wyse besluite te neem of was hulle minder verdorwe? Hierdie beskouing lyk veel meer na ‘n reuse ‘teologiese’ verskoning vir sonde. Nou kan die mens maar net elke keer sê: ‘Ag ek kon nie help dat ek gesondig het teen God nie, want ek is algeheel verdorwe.’ Hierdie argument kan wel deur iemand gebruik word wat Christus nog nooit ontmoet het nie, want alle mense is in sonde ontvang en dus verlore gebore.
Die groot probleem kom nou wanneer Christene ook so ‘n argument wil gebruik. Die ergste is wanneer predikers dit van die kansel gebruik.
Hierdie saak het egter veel meer om die lyf as net dit. As ‘n volk aan so ‘n beskouing sou vashou, kan daar baie groot en verreikende implikasies daaruit voortvloei wat nadelig vir almal sou wees. Ongelukkig is dit presies wat ook in Suid-Afrika gebeur het. Ons pluk huidiglik die vrugte daarvan en dit laat ‘n wrang nasmaak in ons mond.
Wat beteken dit dan om uitverkies te wees?
Die Woord van God leer ons baie duidelik in 1 Pet. 1:2 dat bv. Petrus "uitverkore [was] volgens die voorkennis van God die Vader" God het dus voor die grondlegging van die wêreld reeds die voorkennis gehad dat Petrus Hom sou dien en volg. Meer as dit selfs. In Efes. 1:4 sien ons verder dat ons in Christus uitverkies is: "soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld" Ons is dus in Christus uitverkies. Hy is uitverkies as die enigste Middelaar en daarom is almal wat in Christus is, uitverkies. Die term in Christus kom baie in die Nuwe Testament voor (soos bv. in 2 Kor. 5:17) en spreek boekdele van die uitverkiesing. Die verdere vraag is nou of bg. vers verklaar dat die uitverkorenes vir die hemel uitverkies is. Efes. 1:4 gaan voort: "uitverkies … om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus," Ons is nie uitverkies vir die hemel nie, maar veel eerder om heilig en sonder gebrek voor Hom te wees. Verder is ons uitverkies en voorbeskik in en deur Jesus Christus – dit is waar die klem moet lê. As ons in en deur Christus uitverkies is, kry Hy die eer en word Hy verhoog en verheerlik. As ons egter uitverkies is asof ons van ‘n sekere klas of geslag of afkoms is, word die mens verheerlik. In Rom. 8:29 vind ons meer hieroor. Daar staan geskryf: "Want die wat Hy vantevore geken het [weereens voorkennis], die het Hy ook vantevore verordineer [bloot vir die tyd hierna? Nee] om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun," Ons wat in Christus is, sal daarom op aarde reeds al hoe meer aan sy beeld gelykvormig word totdat ons uiteindelik nuwe verheerlikte liggame kry omdat "ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees," (1 Joh. 3:2). Dan is dit waarvoor elke ware Christen verordineer was uiteindelik volmaak vervul.
Beteken dit dan enigsins dat God nie wil hê dat almal tot bekering moet kom nie? Is God ‘n onregverdige God? Nee, ver daarvandaan.
Daar is baie gedeeltes in die Skrif wat daarop wys dat God wil hê dat alle mense gered moet word:
"Want so lief het God die Wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê."
(Joh. 3:16).
"Want dit is goed an aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom." (1 Tim. 2:3,4).
"… Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom." (2 Pet. 3:9).
Natuurlik gaan almal nie naastenby gered word nie, want die meeste verwerp God se genade aanbod deur Jesus Christus. Dit beteken egter nie dat hulle oorspronklik vir die hel uitverkies was nie. Niemand sal ooit in die ewigheid vir God as ‘n onregverdige God kan blameer nie. Nee, elke mens sal maai wat hy gesaai het. Die Skrif is vol daarvan.
Christus het ook nie net vir sekere uitverkorenes gesterf nie. Nee, die Woord leer baie duidelik dat Hy vir alle mense gesterf het:
"Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom." (Jes. 53:6).
" … die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal,"
(1 Tim. 2:5,6).
" … sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak." (Heb. 2:9).
"En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir die van die hele wêreld." (1 Joh. 2:2).
Laastens moet ons kyk na wat die Bybel sê oor die wil van die mens. Het die mens nog ‘n wil na die sondeval? As God met ‘n mens begin werk deur die Heilige Gees en Hy jou na Hom trek, kan jy dan werklik geen wilsbesluit vir of teen Hom maak nie?
Probeer ons hierdeur sê dat die mens nou in beheer van alles is en dat God nie soewerein is nie? Nee, geensins. God is so soewerein dat Hy aan die mens ‘n vrye wil toegeken het om Hom uit vrye keuse te dien – dit is ware liefde. Nog nooit was gedwonge liefde opregte liefde nie. Dit sou ‘n klug wees.
Ons moet ook onthou dat die Skrif helder en duidelik verklaar dat:
"Die reddende genade van God het aan alle mense verskyn." (Titus 2:11). Rom. 1:20 noem verder dat ‘n mens in die natuur alreeds kan sien dat daar ‘n God is.
Die Woord leer o.a. die volgende oor die wil van die mens en die rol daarvan in die redding van ‘n siel:
" … kies dan vir julle vandag wie julle wil dien" (Josua 24:15).
"As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet of dit uit God is,"
(Joh. 7:17).
"Maar sonder jou goedkeuring wou ek niks doen nie, sodat jou goedheid nie uit dwang sou wees nie, maar uit vrye keuse."
(Filemon 1:14).
" … En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet." (Op. 22:17).